Posted by: schabbers | Oktober 31, 2010

TT Cloete

Prof TT Cloete was my prof op die PUK.  Vir 3 jaar was ek bevoorreg om by hom te leer om agter, rondom en na elke woord te kyk.

Hy het altyd op ons vraag of hy gedigte skryf, gesê hy bêre so ‘n ou paar gediggies in sy onderste laai.

In 1980 debuteer hy met die digbundel ANGELLIERA.

Deur die jare verskyn daar nog 9 digbundels (daar was toe BAIE skryfels in sy laai!)

Die nuutste een is ‘n ode aan sy vrou ANNA, waarin al die gedigte oor haar gaan.  Sy is in 2007 oorlede en sedert haar dood het hy net 9 gedigte geskryf – oor haar – want, sê hy “sy was die digter in hom”.

Dié bundel is tydens AARDKLOP 2010 bekend gestel.

My dogter, Liézel, het die bekendstelling namens my bygewoon en my met twee kosbare besittings verras:

1)  ‘n Getekende bundel persoonlik aan my gerig.  Dit is nr 88 van ‘n beperkte 150 oplaag.

2)  ‘n Video – opgeneem deur haarself – van my ou geliefde proffie se gesprek – sodat ek voel asof ek self daar was!

Hy is vanjaar 86, gebonde aan ‘n rystoel, maar sy woorde gee hom vlerke!

Ek haal ‘n paar reëls uit verskillende van die 9 nuwe ANNA- gedigte aan, wat vir my die mooiste  is:

nou het alles ineengestort

al die rante al die berge al die windpompe

elke padteken elke pleknaambord

elke rigtingwyser het Verdwaal geword

Uit:  ELEGIESE REIS

op soek na jou vat

ek dikwels die Eleazerpad

ver tussen soetdoring weerskante

en gletsers se nalantenskap kliprante

dan skielik regs en oos

lê groot oop ‘n grasvlakte boomloos

daar sit op die kreupelbos drie troupante

eers na jou dood het ek hulle daar raakgesien

vlieg jy in een van hulle daar rond miskien

Uit: 4

ek het ontroosbaar hartseer

gebreek teruggekeer

gekou en gekners aan die vraag hoe maak

ek met ‘n troupant ‘n afspraak

vir wie moet ek kwaad

word vir ‘n handvol reënboogvere se verraad

Uit: 5

ek krap in jou nalatenskap rond

‘n sakdoek met ‘n afdruk van jou mond

jou kredietkaart

(die laaste trekking 3 Maart

toe het jy by Gert se salon jou hare

laat doen    tot die dood toe was jy gesteld

op mooi lyk)

het ek oorgehou na jare

en ja jou paspoort wat nog altyd geld …

Uit:  PASPOORT

… van alle onthou

van my en van jou onthou ek jou

helder langs my, in profiel langs my,

oral uit die wit lig van my land gesny.




Responses

  1. Hierdie is tot hartbreek toe mooi.

  2. Dis vir my nogal nice om te sien hoe baie van sy studente was so gek oor hom!

  3. na ek die waarhede gelees het, wou ek net stil wees …..

  4. kan julle my asb die adres van PROF T.T. CLOETE stuur….ek wil vir hom ‘n lang brief skryf uit my hart om hom te vertel hoe baie hy vir my beteken het as student maar veral daarna..hoe ek verlang om net weer in sy klas te sit………..sy wysheid en wonderlikheid te geniet……….EN OM TE DINK ONS HET SOMS SY KLASSE GEBANK.

    STUDENTE WEET NIE ALTYD WAT SE KOSBAARHEDE VOOR HUL STAAN EN KLAS GEE NIE SY KLASSE WAS WONDERLIK EK SOU SO GRAAG DIT VIR HOM WIL SE MAAR WOORDE ONTBREEK .WAT ‘N VOORREG OM SO ‘N GROOT PERSOON TE KEN SOOS PROF TT judie venter afr ned student 1972 tot1975

  5. WAT SAL EK GEE OM NET NOG EEN KEER WEER TE KON LUISTER NA PROF TT. SY KLAS WAS BESLIS EEN WAT EK NOOIT GEMIS HET NIE. EK GEE NOU AL BYNA 30 JAAR AFRIKAANS EN MY GROOTSTE LIEFDE BLY GEDIGTE, DANKSY PROF TT.
    Lenely Botha Afr Ned student 1074-1976


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: