Posted by: schabbers | Augustus 17, 2011

Om te groet…

Die herfsjare is nie vir sissies nie. Daar is darem ʼn voordeel ook in. Ek skrik nie meer nie. Of laat ek dit só stel, ek skrik nie meer maklik nie.
Behalwe vir die lui van my telefoon. ʼn Telefoon bring een van twee dinge: Goeie nuus of slegte nuus.
Die telefoon lui. Ek skrik, kyk op van die sleutelbord en tel my foon op. Ek sien dit is my dogter. Sy is in Pretoria en dit is 06h00.
Alles genoeg rede om benoud te word en met vertraagde aksie te antwoord: “Kinta, môre.”
“Môre Pa. Pa, sal pa kom kuier? Ek het raad nodig.”
“Vir wat bel jy só vroeg. Ek het my lam geskrik!

Ek ry nie maklik nie. Sy het my nodig. Sy doen niks sonder my raad nie. Ek weet ook sy betaal nie graag huurgeld nie. Sy koop. Sy koop egter altyd moeilikheid.
ʼn Gekrokte huis.
Ek het gery. Sy gaan wys my die huis in ʼn goeie gebied, Rooihuiskraal.
Ons stop voor die huis. Ek sien verwaarlosing en die handewerk van rowers.
“Pa, die plek staan al vir twee jaar leeg. Hulle het nou ʼn wag hier. Dit is ʼn geveg tussen die bank, die eienaar van die huis, en die eksekuteurs van die bankrot boedel.”
Ons loop deur en die wag vergesel ons. Ek sien plafonne is uitgeruk en die elektriese drade gesteel. Krane is afgehaal en kasdeure is flenters en hang skeef. Soos ons deurloop en kyk, ontvou ʼn tragiese storie.
Oral, op die mure, in die kaste, op rakke, het die vorige bankrot eienaar sy hart uitgestort.
In dik rooi viltpen geskryf: die droewigste versies van treur, hartseer, verwyt en liefde vir sy tuiste.
“Kinta, dit is ʼn man wat hier geskryf het.”
“Ja Pa, ek ken hom nie, dit is duidelik dat hy lief was vir die plek en swaar afskeid geneem het.”
Ek ken die lewe. Kopers draai weg van verwaarlosing. Mense is stupid en het nie meer hande nie. Hulle weet wat dit kos om ʼn huis reg te maak.
Sy, hierdie dogter van my, het ek groot gemaak. In my werkswinkel is sy gevorm en getoë. Sy koop nie ornamente nie. Sy het ʼn kis vol gereedskap.
Daardie selfde slanke vingers wat die mooiste klanke uit die klassieke kitaar kan voortbring, kan ook ʼn teël presies sny en lê.
Daardie selfde oë wat die onduidelike doktershandskrif op ʼn voorskrif kan ontsyfer, die pille sorgvuldig tel, kan ook sien waar moet die rooi draad, die swart draad en die aarddraad ingaan.

Die onderhandeling was effe gekompliseerd. Die boedelmense moet soveel moontlik in. Die bank wil net soveel moontlik van sy verlies opmaak.
Ek het eenkant gestaan. Ek weet, agter daardie paar laggende oë, daardie soetsappige lippies, en onder daardie bos wilde goue krulle, skuil ʼn wrede, yskoue sakebrein.
Sy het uitgestap met ʼn winskoop en ontsaglik baie werk.
“Pa, sal pa na die honde kyk, Ma moet kom help.”

Ek het haar ma, met haar gereedskap en haar selfopgeleide handlanger gaan aflaai.
Van tyd tot tyd het ek gaan oë wys. Laataand het ek toegekyk hoe hulle die pleistertjies om die vingers bind. Om die vingers van die sagte handjies van haar pas getroude ouditeur in wording, eggenoot.
Die arme man het nooit geweet waarin hy hom begeef het nie.

“Pa, as pa vir ma kom haal, bring vir Rufus saam, asseblief.”
Rufus is ʼn Bulterriër. Rufus het ʼn toekoms. Hy gaan nog Bafana Bafana se kaptein word. Hy kan ʼn bal dribbel.
Sy gunsteling is om die bal te gaan haal. Wys hom net mooi met die vinger waar moet hy die bal voor jou plaas. Met ʼn ligte rol van die voorpoot, sal Rufus die bal neersit presies waar jy dit wil hê.
Die kuns is om te sien of jy die bal by hom kan verby kry. Onmoontlik. Behalwe met ʼn kroek. Skop die bal agtertoe. Rufus verwag nie vuilspel van jou nie.
Ek vat Rufus saam. Met sy slaapkas en skadunetafdak. Rufus herken die mense en maak hom tuis. Hy word baie gou baas van die plaas en gelukkig. Ek het sy bal saamgeneem.
Terwyl hulle afrond, speel ek en hy bal. Wanneer ek moet ry, sien ek die vraagteken voor sy kop en die snaakse kyk in sy oë. Ek sien hy gaan lê en ek weet hy sal voor die hek wag op my terugkoms.
Die besef het tot my deurgedring. Rufus is happy omdat hy weet ek is daar.
Hy het eintlik twee harte. My dogter het hom groot gemaak. Sy wordingsjaar, het hy haar opgepas by haar eerste huis in Carletonville.
In Nelspruit het sy ʼn sekerheidskompleks gekoop en kon hom nie akkommodeer nie. Ek dink egter die verwydering was effens te lank.

Afskeid het aangebreek. ‘n Hond is nie stupid nie. Hy sien die bakkie word gelaai. Hy gaan sy slaapkas binne, gryp sy kombers en sleep dit nader. Gaan terug in sy kas, kry sy bal en sit dit op die kombers neer, lê en wag met oë wat al die bewegings dophou.
Wat hom betref, het hy alles wat hy nodig het en is gereed vir huis toe gaan.
Kleinjan klim agterop die bakkie, kry sy sit en Rufus staan op, kombers se punt in die bek. Ek gee die hond net so ‘n sydelingse kyk en groet my kinders.
By die bakkie se deur, terwyl ons nog die laaste praat praat, voel ek sy stamp teen my been. Met die bal in sy bek stamp hy my aan die been, ons twee se kyk ontmoet, en sy oë se kyk wil weet.
Vroutjie klim anderkant in. Ek kyk vir Rufus en ek kyk vir dogter. Rufus het die bal by my voete neergesit en sleep sy kombers nog nader en hou die punt in sy bek. Sy opkyk, die ontmoet van ons oë, die verskriklike stilte tussen almal, maak die oomblik swanger.
My gemoed skiet vol.
“Pa, ry nou, ek sal hom die huis in vat.”
Ek sien vog in haar oë ook.
Hy het nie gereageer op haar roep nie. Met die kombers in sy bek het hy die bakkie agterna geloop. Die skuifhek se toegaan het nie die afskeid se kyk verdoesel nie.
My laaste sien was net sy gaan lê met die kombers se punt in sy bek.
En ek het nie ‘n sakdoek by my gehad nie. 

 

Geskryf deur:  Willie van Tonder

 

 


Responses

  1. Ek voel hartseer omrede jy vir Rufus agtergelaat het! Snik …

  2. Ek sou dit NOOIT oor my hart kon kry om my Pa en Rufus te skei nie! Nie na daardie kyke nie! Sou maar my eie wonde gaan lê en lek het. Pik meer as ‘n traan weg…..


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: