Posted by: schabbers | Oktober 7, 2011

Dra jy Vrydae jou groen-en-goud?

Nou die dag stap ek in ‘n winkelsentrum in die stad en skielik kom staan ‘n man in ‘n Springbok-trui voor my en hy sê:  “Jy sal my seker nie meer onthou nie.”

Ek kyk na die smal mond, en die ore, en die kuif, wat yl maar steeds waterpas oor die voorkop hang.

“Flip,” sê ek.  “Is dit wraggies jy?” 

Toe lag hy en skud my hand.

Flip was ‘n standerd voor my, maar ons het twee seisoene in dieselfde rugbyspan op skool gespeel.  Hy was ons losskakel, al sal jy nie sê hy was ‘n losskakel as jy nou na hom kyk nie.

Eers wou ek iets sê oor die Springbok-trui wat hy nou so ewe dra, maar toe besef ek:  dis Vrydag.  Oral in die sentrum was mense met Springbok-truie aan, ter ondersteuning van die Bokke wat die Wêreldbeker vir ons moet wen.  Flip het maar net gedoen wat soveel ander mense doen.

Die trui het styf oor sy borskas en maag gespan;  en die trui het dit nogal duidelik gemaak sy boarms, sy biseps, het sedert ons skooldae nie veel ontwikkel nie.

Sou hy gemaklik in dié trui voel?  het ek vlugtig gewonder.

Wanneer ek sommige mense in ‘n Springbok-trui sien, wonder ek dikwels of hulle gemaklik daarin voel, want ‘n Springbok-trui is nie regtig ontwerp vir iemand met ‘n gewone, ingeleefde lyf nie.  Dis ontwerp vir ouens wat byna elke dag in ‘n gimnasium oefen, jong ouens met breë skouers en plat, hobbelrige mae.

Die materiaal waarvan die trui gemaak is, is in ‘n laboratorium ontwikkel om sweet te absorbeer, liggaamshitte konstant te hou en om dit so moeilik as moontlik te maak vir ‘n teenstander om daaraan te gryp en te ruk en te pluk.  Dis nie ontwikkel om na ‘n kantoor te dra vir jou werk as rekenmeester of personeelklerk of wat ook al nie.  Dis nie werklik eers ontwerp om in te sit nie, behalwe dalk vir ‘n spanfoto.

Flip, so het dit vir my gelyk, moes nogal gewroeg het oor of hy die trui los oor sy broek moet laat hang en of hy dit by die broek moes insteek.  Op die ou end het hy oënskynlik op ‘n kompromie besluit:  Hy het die trui oor die broek laat hang, maar net by die een heup ingedruk.

Jy sien op ‘n Vrydag baie ouens wat nes Flip rondstap, met die Bok-trui net by die een heup – of albei heupe – ingesteeek.  Dit steek die maag weg, redeneer hulle moontlik.

Die probleem is net ‘n Springbok-trui is ontwerp om aan jou lyf te klou.  Dit lê al die kontoere op ‘n Vrydag bloot wat jy vir die res van die week met jou klere probeer verbloem:  die maag, die hoenderborsie, die dun arms.

Staan sommige mense op ‘n Vrydagoggend langer voor die spieël in daardie Springbok-trui wat maar net nie reg aan die ou lyf wil sit nie?

Ek het na Flip gekyk en gewonder of hy die oggend voor die  spieël gestaan en lank na homself staan en kyk het, met die trui aan, dalk met sy maag ingetrek.

Het hy dalk selfs na homself gekyk en ‘n denkbeeldige bal in sy hande vasgehou en gemaak of hy dit vir iemand uitgee?  Hy het dalk sy hande gevou en na homself gekyk en hom verbeel hy staan op ‘n Springbok-spanfoto, tussen Bakkies Botha en Jean de Villiers?

Ons het vlugtig gesels, ek en Flip.  Ons het gesels oor dinge waaroor ‘n mens gesels wanneer jy iemand wat vir jou ‘n vreemdeling geword het ná hoeveel jaar weer raakloop:  Waar woon jy?  Is jy getroud?  Kinders?  Ai, hoe het die tyd darem nie gevlieg nie.

Toe sê Flip:  “Wat sê jy van die rugby?  Ek sê ons gaan die Wêreldbeker wen.  Ons het die spelers.  Ons gaan die All Blacks rol.  Ons…”

‘n Rukkie later, toe groet hy.  Ek bly staan en kyk hoe stap hy van my af weg, al hoe verder weg.

Flip in sy Springbok-trui.  Flip die losskakel, wat twee jaar saam met my vir ons skool se vierde span gespeel het.

Geskryf deur:  DANA SNYMAN

In BEELD-DEURLOOP:  Vrydag 7 Oktober 2011


Responses

  1. Ek besit nie een nie en ek sal ook nie een aantrek op Vrydae nie. Dan is ek maar nou ‘n spoilsport. Ek voel die mense wat die Sprinkbok trui/hemp dra het gewerk daarvoor en het dit verdien. Nou loop elke Jan Rap en sy maat met een aan. Dis belaglik. Ons kan eerder ‘n groen armbandjie of strikkie dra om die Bokke te ondersteun. En MY lyf sal beslis ook belaglik lyk in so ‘n trui😆


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: