Posted by: schabbers | Desember 1, 2011

Waar is weg?

Sal ek darem bittergraag wil weet!

Waar is dié onbekende adres vir verlore goedere?

Die vermoede bestaan teelepels en sokkies het dieselfde bestemming bloot omdat die goed so sienderoë kan verdwyn:  twee beland in die wasbak of wasmasjien waarvan slegs een weer sal opdoem – een van die lewe se oneindige geheimenisse.

Boeke se weg is soms eweneens onpeilbaar.  Op ‘n dag gaap die boekrak haasbek en krap jy kop oor watter leesgenot tussen neus en ore vermis geraak het.  Wat van hierdie of daardie boek geword het……..vir wie jy dit geleen het, nadat jy jouself voorgeneem het om ‘n lys te maak watter boek jy vir wie geleen het. 

Omdat boeke soos my kinders is, is dit  juis dit wat my laat besluit het om nooit weer ENIGE boek vir ENIGE persoon te “leen” nie!

Die moeilikste weg om te oorkom, is wanneer belangrike dokumente tussen neus en ore verdwyn, die beste weg is ‘n stomp mes en die wegste weg is gewoonlik gebruiksgoed soos skêre, kramdrukkers, gaatjieponsers, haarrekkies, skeermesse en tandevlos!

En soms, wanneer ek my treë moet reg om by die kinders te bly, word ek bewus daarvan hoe onmeetbaar die wêreld van weg is:  nooit sal ‘n mens hulle weer kan sus op jou skoot, ‘n nota skryf namens die tandemuis of hoef te wys hoe slaan ‘n mens bollemakiesie nie.  Selfs al staar ek hoe lank na die foto’s wat my lewe sedert hul geboortes kaart, sal ons nooit weer daardie ma en daardie kinders wees nie.

Soveel ander belewenisse beland ook mettertyd in die naamlose kantoor van verlore goedere:  die presiese reuk van Oupa se growwe baadjie, die geluid van ‘n stram deurskanier van ‘n huis waarin eens gewoon is en die gevoel van die wind in jou hare wanneer jy afdraand fietsry.

Hoeveel keer dink ‘n mens dit of dat of daardie persoon sal nimmer vergeet word, net om jare later radelos ‘n spreekwoordelike plakkaat teen ‘n lamppaal te wil opplak met die woord:  GESOEK.

Dan loop ons na op die spore van verslaande vriendskappe en verhoudings, tas in die duister na woorde wat verlê is en trap die pad snuif tussen Pontius en Pilatus na kwytgeraakte insig.  Dit bly telkens buite bereik, soos ‘n vlietende beweging wat ‘n mens uit die hoek van jou oog sien, maar sodra jy opkyk, is slegs ‘n afwesigheid te sien.

Gelukkig is daar talle dinge wat saliger is in die grensloosheid van die verste weg:  spyt en verwyt, bitterheid en verdriet, nydigheid en arrogansie, verhoudings wat strem en jeans wat gepas het toe jy op jou ongelukkigste was.

Elke mens se weg het sekerlik ‘n persoonlike adres.

En soms moet daar nie te hard gesoek word na waarheen dit verhuis het nie.

 

Weg is dan net weg!

 

Aangepas en oorgeskryf uit:  “As iets verhuis na die verste weg”  deur Annemarie van der Walt in BEELD DEURLOOP

(UIT HAAR RUBRIEKBUNDEL “Talisman teen troosteloosheid”)

 


Responses

  1. So waar!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: