Posted by: schabbers | Februarie 10, 2012

Op Vlerke van die Phoenix

Die Apollo teater, Victoria-Wes, het ‘n wonderlike storie.  Die outentieke filmteater wat vir meer as twintig jaar in sy toegeseëlde  sarkofaag gerus het, met ‘n Foschini winkel wat in sy voorportaal bedryf is, totdat dit in die negentigs herontdek is en weer opgeknap is tot sy vroeëre glorie.  Die verhaal van die Apollo laat my verlang na die bioskoop-teaters uit my kinderjare – Leba in Klerksdorp en die Alpha in Welkom.  Maar veral ook die Phoenix met sy mitiese naam – die Cinema Paradiso van my jeug.

 Die Phoenix teater op my  jeugdorp het nie gekwalifiseer vir die term Art Deco nie. Dit was te modern, te sestigs. ‘n Bruin siersteengebou met glaspanele. Naby die bank en die biblioteek in ons myndorpie teen die rivier.  Dit was nie ‘n buitengewoon groot teater nie.  Tog het dit vir my  verskriklik groot gevoel, so asof  ek in die buitenste ruim instap – ‘n Regtige Space Odyssey-ervaring.

Buite het die naam groot gepryk: PHOENIX.  Die naam het wonderlike ontdekkingsreise in die binneruim van die teater voorspel.  Talle nuwe droomreise sou daar begin.  Helde wat hulle lewe op die spel plaas vir heldinne.  Diep fliekspore wat ‘n blywende indruk laat.  Want ‘n  teater–onthou van ‘n fliek is anders as ‘n inry-onthou.  Met ‘n inry onthou jy meer die geselligheid  rondom die kyk van die fliek as die trefkrag van die fliek.  Selfs rillers het ‘n sekere afstand tussen jou en die skerm geskep (alhoewel jy doodbang was vir iemand wat dalk teen jou motorruit klop en grynslag!)

 Met ‘n fliek wat in die teater gekyk is, is dit  mos heel anders.   Dit het ‘n onmiddellikheid, ‘n impak.  Jy is dààr.  Daarom verg dit ook ‘n behoorlike aanloop.  Die aantrek en regmaak, uitsien en  die afwagting.  Die foyer.  Die koop van die kaartjie.  Natuurlik, moet nie die verversings vergeet nie, Coke en springmielies vir gewone Matinee’s.  Vir die spesiale aandfliek:- sjokolade.  As pa rojaal was die aand: ‘n boksie Nutties.  As jy ‘n meisie rêrig wou beindruk : Black Magic.

Die fliekervaring uit my tienerjare wat my in stadige aksie bybly, is  ‘n film premiere in ons eie dorpie.

 Dit was die era van die Afrikaanse film – Hoor my Lied het mense na sakdoekies/sneesdoekies laat gryp. Ons het lustig saamgesing met die tragiese verlamde heldinnetjie van die A en die B en die grote C.  Die Afrikaanse film, die A van my ABC van fliekervarings.

Maar toe kom Die Geleentheid:  ‘n Afrikaanse film se premiere word in ons dorpie gehou in 1968.  Die film is (retrospektief gesien) een van die liggewigte in die Afrikaanse filmbedryf.  Tog het dit ‘n immergroen sangeres van Afrikaanse musiek opgelewer.  Wie het toe kon dink dat Dopper Erasmus se “Timothy” vir  Carike Keuzenkamp deure na ‘n sangloopbaan sou open?

Maar dit was altyd maar vir my  ‘n minder belangrike rede waarom “Die Professor en die Prikkelpop” so ‘n indruk op my gemaak het.  Die hoofoorsaak, wat aan my slapelose nagte en visioene van skoonheid besorg het, was die een “prikkelpop” (in my oë lasterlik om ‘n engel met so woord te beskryf!).  Vir my was sy ‘n eteriese wese wat aan my vaal dertienjarige bestaan nuwe kleur kom gee het.

 Haar naam (in neonligte natuurlik):  Tani de Lange.

 Ek onthou nie veel van die Jamie Uys fliek nie.  Wel dat ek ‘n wrewelrige haat jeens ene Serena Price (vertolk deur Bernadette da Silva) gekoester het omdat sy, die donker heks van onheil, gekonkel het om die ander deelnemers uit te skakel, veral dan vir Sue Pearson (vertolk deur Tani de Lange) – Wie kon tog dink om so boos op te tree teen die onskuldige blondekop meisiekind met die bokkiebruin  oë wat “in die moeilikheid” beland het  (‘n begrip wat waarvan die volle betekenis op dertien  nog nie vir my so mooi duidelik was nie.)  Maar ek was vinnig aan die leer!

 Tani de Lange.  My droomprinses wat so reg uit die silwerdoek gestap het in my dertienjarige leefwêreld in.  Kry ek sowaar weer ‘n rilling hier waar ek voor my eie klein skermpie sit en die onthou uittik.

Ons familie was voltallig daar die aand:  Pa, Ma en ons vier kinders.  Die foyer het die aand getintel van opwinding.  Al die dorpie se belangrike persone was daar, burgemeester inkluis. 

 Daar was ‘n spesiale afwagting die aand in die voorportaal. ‘n Rooi tapyt is uitgerol van die gemerkte parkeerplek tot reg voor die glasdeure van die teater.  ‘n Rerige rooi tapyt.  Die groot oomblik het aangebreek:  ‘n lang wit  spogmotor het  stilgehou.  Die chauffeur het uitgeklim en die linkerkantste agterste deur oopgemaak.  ‘n Visioen in Wit het daar uitgeswewe.  ‘n Engel.  Op daardie oomblik het alles om die engelvrou vervaag en was sy presies in die fokus van my sig – die res was uit fokus, net sy en elke  detail van haar is ingegraveer op my brein-  ‘n reuse ligsensitiewe vel fotopapier wat die indrukke verewig het.

 Haar hare:  ‘n stralende goue kroon op haar kop met twee goue lokke wat weerskante van haar kop spiraal.

Haar vel:  albasterwit en vlekloos (vra my,  wat die Clearasil juis kunstig aangewend het voor die uittog die aand)

Haar neusie, fyn en pikant.  Die mond, onskuldig, vriendelik en vanuit my verliefde oogpunt uiters soenbaar! 

Die rare kombinasie van vonkelbruin oë saam met die blonde hare.

Haar uitrusting het die vroue aan die praat gehad.  ‘n Silwerwit rok wat kuitlengte gehang het en onder die rok het die twee parmantige wit frillletjiespype van ‘n langbroek uitgesteek.  Ek het ‘n vernietigende blik gewerp na die tannie met die Crimplene rok en stringe krale wat hardop gewonder het of sy dalk ‘n volksvreemde  geloof aanhang.   Ek wou my hand uitsteek om aan die waas van drome te raak,  maar het dit maar weer ewe verleë in my blou hipster se sak gesteek.  Ek kon net staar.  Later sou ‘n liedjie van Peter Sarstedt my aan die oomblik herinner:  Where do you go to my lovely….

 Van die fliek onthou ek net my gevoel van skreiende onreg toe sy so onbarmhartig behandel is in die kompetisie, veral  toe die oorsaak  van haar “Moeilikheid” bekend geword het.  En die oomblik toe een van die beoordelaars in ‘n oomblik van meevoering by aanskoue van die prikkelpopparade sy potlood in twee gebreek het.  Ek sou deur ‘n hele blik Steadler potlode kon draf en hulle tot die fynste vuurmaakhoutjies vermorsel met my nuutgevonde krag.

 Kort-kort in die loop van die fliek het my oë na die plek links voor gedwaal waar sy in die teater gesit het. Het ek  jaloers gewonder wie langs haar sit.

 Toe die eindtitels rol het ek pleitend na my pa gedraai.  Pa kan ons nie maar die tweede vertoning ook bywoon nie?  Ek sal my pa ewig dankbaar bly dat hy gaan navraag doen het.  Selfs al moes ons teleurgesteld verneem dat al die kaartjies uitverkoop was.  Ek was bereid om enige plek in die paadjie my tuis te maak, watwou ‘n kaartjie.

 Die wonderlikste bonus egter: Na die vertoning het my droomheldin in die foyer gestaan  en kon ek weer in stadige aksie na haar kyk en elke stukkie detail indrink.  Ek moes ‘n geheueskyfie neem , want ek het nie my “Traveller” kamera byderhand gehad nie.

 O ek wou nie die  heerlikheid van die Phoenix se portaal prysgee nie.  Hier voor my eie oë het ‘n droom waar geword.  Uiteindelik onafwendbaar moes ons huis toe want die tweede vertoning het begin.  Sonder my.

 Die aand het ek kwalik geslaap.  Planne beraam.  Die volgende dag gesoek en gevra totdat ek Mimosa ateljees se adres in die hande gekry het.  My bewonderaarsbrief aan Tani gerig.  En gevra vir ‘n getekende foto.  Asseblief.  Miskien het sy die noodkreet van ‘n tiener tussen die reëls van my briefie gehoor.  Twee weke later was daar ‘n koevert in die pos vir my.  ‘n Getikte briefie waarin ek bedank word vir my belangstelling.  Maar wat my hart tot stilstand gebring het, was die swart en wit foto wat uit die brief geval het.  My godin met die goue lokke, haar oë hemelwaarts geslaan.  En regs onder in die hoekie, geskryf met swart koki-pen:  Baie liefde, Tani de Lange.  My beker van geluk het oorstroom.  Die foto is dadelik netjies geraam en het op my lessenaar gepryk.  My inspirasie deur menige tienerkrisis.  Tussen die foto en die rugkarton ‘n menigte geheime bêrebriefies versteek, selfs ‘n geheime kode in Tani-taal!

 Onlangs woon ek ‘n begrafnis by in die myndorpie van my jeug.  Na die begrafnis ry ek  na die middedorp. Kies onwillekeurig  koers na die Phoenix teater, plek van Drome.  Toe ek stilhou waar die spogmotor tydens die premiere jare gelede gestaan het, sien ek dat die teater nou ‘n Charismatiese kerk is.

 Ek klim uit en herleef die rooitapyt-aand.  En dink wrang daaraan dat Tani nou al sekerlik Ouma Tani vir haar kleinkinders is.  En voel byna soos die ontnugterde Toto karakter in die film Cinema Paradiso wat weer na jare terugkeer na sy tuisdorp net om te ontdek die filmteater gaan gesloop word…

 Maar soos Toto sien ek in die as van die inmekaargeplofde gebou die mitiese herrysenis van my droom. Brokstukkies van honderde flieks wat deur die jare hul storiepad deur my kop gebaan het.  ‘n Blik vol fliekuitknipsels.  ‘n Helde/heldingalery teen die muur wat later afgehaal is toe die muur geverf is.   Weet ek : verbeeldingsvlugte word nie deur verfwerk of  sloping  vernietig  nie.  Die krag van onthou, die krag van drome sal weer en weer herleef.

Vlieg Phoenix, Vlieg!

Geskryf deur WIM FOURIE op sy blog:  http://www.wimfourie.co.za


Responses

  1. Jy het my nou ver teruggevat op die vlerke van onthou! Ons fliekteater was net Die Protea🙂


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: