Posted by: schabbers | Februarie 15, 2012

Van stoomtreine, trekkers, dikmelk en honde


As kinnertjie is ek vroeg-vroeg bekend gestel aan selfstandigheid en minderwaardigheid-is-net-nie-‘n-opsie-nie. Voorskools al. My pa en ma het eenvoudig nie geskroom om my aan die wonderwêreld van die (in daardie tyd) barre lewenservaringe bloot te stel nie.

Ek moes self my voete vind. En gou ook. Anders hol die trein vir jou weg!

Kleintyd het hulle my Kaapstad-stasie toe gevat. Toe was daar nog ‘n reuse-stoomlokomotief in diepgroen en rooi en goud in die hoofsaal uitgestal, die mooiste “ornament” wat ek al ooit gesien het. Ek het op hom geklouter, aan sy koperpype en stange en wiggies gevat en my verbeel ek hoor en ruik die stoom en steenkool wanneer die toeter blaas.

Maar my trein het op Platform 7 gewag. Die melktrein Weskus toe. Die loko al paffende, blasend, rokend. En ek het met die perron af gehardloop tot by die Groot Swart Meneer en probeer inloer om daai vuur te sien.

Meer as een keer het die stoker of die drywer my opgetel en die grid vir my oopgemaak sodat ek tot binne-in die enjin kon kyk. En my gesiggie het gestraal, nie weens die intense hitte nie, maar eerder van geluksaligheid.

Terug by die ou houtwaens het ma my koffertjie aangegee en ek is opgeslurp in die ouwêreldse weelde van ‘n ses-man-kompartement waar ek my altyd heel bo lê gemaak het. Ma-hulle het nooit geld vir ‘n koepee gehad nie, maar dit het somehow nooit saak gemaak nie. Ek het gou pêlle gemaak met die ander in die kompartement, en gang-af gehol en hellou gaan sê vir al wat leef en beef.

Dit was skemer en dit was nag. En die trein se klik-klak oor die spore het my weggevoer na daar waar Harry Potter nog nooit was nie. So bo van my bed af het ek seuntjie-stront met die ander siele in die geslote trein-kubus gepraat en uiteindelik onder die gesis en gestoom en roet-in-jou-oë van die Swart Meneer aan die slaap geraak.

Ek was nooit bang nie. Nooit nie. Al was ek alleen. Die trein het my gesus, my beskerm, my bymekaar gehou. En snaaks genoeg: my ma-hulle was nooit bekommerd oor my nie. Dit was nie nodig nie.

By Graafwater se stasie huiwer die Meneer seker so ‘n halfuur lank. Hy moet vars water kry, nuwe kole, en die manne agter die vuurwarm uitkykpos moet seker ‘n lafenissie kry. Dis dan wanneer die kondukteur in sy spiekeries uniform my met ‘n ligte kloppie op die skouer kom wakker maak en sê: Ratelfontein is om die draai. Kom, ek help jou met die koffertjie.

Ons stoom Ratelfontein se kant toe. Dis net ‘n siding. Die nag is so swart dit kon net sowel The Chamber of Secrets gewees het. En dan sien ek dit: twee ligte in die duisternis, oupa se trekker-en-wa. En ouma, Voortrekkerkappie op die kop op die wa se kis.

My kind! Ouma!

Ons trekker plaas toe. Oupa het nie ‘n bakkie nie. Maar by die huis het oupa en ouma vir my, ek wriemel my tussen hulle in, ek gooi die koffertjie daai kant toe, dis so lekker om iemand te wees.

Dikmelk? vra ouma. En sy kom met glase en ‘n vol, koue glasbeker. In die lig van olielampe en lanterns drink ons asof dit wenner-wyn uit die nuwe oesjaar is.

Dis nou al eintlik te laat om weer te gaan skuinslê, sê oupa.  Ek en ou Koos moet skaap toe. Ons moet gaan skeer en dip. En sommer ook ‘n ou slagdingetjie kry vir die res van die week.

Ouma gaan skuif en skommel haar potte en panne op die Welcome Dover-stoof. En steek nog ‘n stukkie hout onder by die vuurmaakplek in. Amper soos by ‘n stoomtrein. Ons kan nou-nou oggend maak, sê sy en gooi ‘n blokkies-tafeldoek oor die growwe hout van die lang kombuistafel. Ek kry solank die jam en vye.

Ouma se heiligdom. Haar spens. Jy durf nie sommer jou kop daar in steek nie. Daar hang biltong en droë wors en bokkems en uie en knoffel en kruie en wat nie alles nog kan hang nie. Rakke vol ingemaakte goete – ‘n deli in eie reg.

Ons sit uiteindelik aan’t tafel. Die dag breek al so stuk-stuk deur die vensters. Oupa vryf oor sy bles en maak sy oë toe: Segen Vader, sê hy, vir wat ons nou te ete gaan kry. En vir die goeie hande wat als voorberei het. En dink asseblief aan hulle wat nie so bevoorreg soos ons is nie. Dankie liewe Heer. Amen.

Ouma se plaasbrood en vars gekarringde botter kom met lapdoeke tafel toe. Die brood is nog warm, die botter net-net gestol. Sy kom met lewer en suursous en gebakte eiers wat nog bibber en beef en soutvleis-kolwyntjies wat net-net uit die oond ontsnap het.

Ek het nou soos ‘n baas geëet, sê oupa en skuif sy stoel agtertoe. Dankie ma!

Ek wil saam. Maar oupa sê nee. Jy help vandag vir jou ouma, ek en Koos gaan die veldwerk doen.

Op die trein terug Kaap toe sien ek nog daardie twee lig-oë van die trekker in die nag, die gevoel van “veilig, hulle is hier, hulle het vir my gewag, hulle het my kom haal”.

Al die jare het ek daardie wonder-woorde vir my twee spanjoele – Heidi en Beetie – gesê wanneer ek die huis sonder hulle moes verlaat, of dit nou net ‘n tydjie of heelwat langer was: moenie worry nie, ek kom nou-nou vir julle haal. Ek sal julle mos nooit alleen los nie, ek kom vir julle haal!

Met Heidi op sewentien moes ek my woord verbreek. Die antie kon nie meer sien of hoor nie, nevermaaind met die trappe ondertoe of boontoe loop. Daar was pyn in haar oë, ‘n “ek kan net nie meer nie-gevoel” in haar lyf.

Ons is veearts toe. Vandag, môre of oormôre, sê hy. Dit is tyd.

Die twee trekkerligte in die nag was dood. Daar was niks nie. Niemand wat wag nie, niemand wat iemand kom haal nie. Tatta, my skat.

Toe ek huis toe ry, sien ek die stoomlokomotief se lig in die hoofpad brand. Ek sien die rook en die hitte wat op Swart Meneer se rug vibreer. Ek ruik die roet, ek sien die vuur. Ek hoor die klik-klak onder my voete en verbeel my ek sien ouma met brood en botter in die hand.

Ek huil. Soos ‘n baba toe ek by my voordeur vir Beetie sien.

Oubaas het mos gesê hy gaan vir jou kom haal!

Geskryf deur:  Ian Theron

Rapport blog-inskrywings


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: