Posted by: schabbers | April 27, 2012

Honde sie-pie-aar

Honde-sie-pie-aar

Iemand gil vreesbevange.

Ek en Tryna staan vasgevries van skrik in haar kombuis, waar ons kuier terwyl ons karring met kos. Dis toe die hele swetterjoel  van buite af, deur die kombuis  verbystorm sitkamer toe, druipend nat en heeltemal histeries. Die tweede een met die slap, asemlose liggaampie van die bonneltjie-brakkie in haar hande geklem.

Die mans sit rustig voor die TV, bene uitgestrek. Elkeen ‘n yskoue bier. Phalaborwa op 16 Desember is nie ‘n koel plek om te wees nie.  ‘n Mens beweeg nie baie nie.  En ook nie baie vinnig nie.

“Pa-a-a-a!  Kan mens sie-pie-aar op ‘n hondjie doen?”  Dis Paula, heelvoor.  Haar pa is mos ‘n dokter. Hy sal mos weet.

“Ek het vir julle gesê: julle moet die hondjies voor op die stoep toemaak, hulle gaan verdrink!”

Dis die ander pa.  Hy het immers vir hulle gesê.  Nou is dit ‘n probleem.  En dokter-pa is nie ‘n goeters-met-goggavoete-mens nie.  Nee, daar is nie ‘n manier dat hy CPR op ‘n sopnat, dooie snot-lelneusie met ‘n blou uithangtongetjie doen nie.

Nou is dit die kinders se probleem. ‘n Probleem waarvoor kinders nie ‘n oplossing het nie. Want daar is nie ‘n oplossing vir dood nie.

Drup-drup  word die vloer een groot dam soutwater daar waar hulle inmekaargekrimp en verbysterd in die donker, koue gang opbondel.  Een snik. Willie hou Paula styf om haar rukkende skouers vas. Martin en Niël staan stilstomgeskok. Klein Sakkie retireer stadig agteruit die gang af, kamer toe. Sy skouers hang. Dis daai skulp-toeklapding wat die mans doen. Dis nie moontlik nie, klein hondjies verdrink nie. En dis nie eers hulle skuld nie. Dis nie ‘fair’ nie. Want hulle het die teef en haar hondjies  gaan toemaak en nog ‘n stuk yster by die gat langs die hek ook ingeskuif.  Hulle staar net.  Staar net na die nat dremmeltjie wat netnou nog speels in hulle nekke ingekriewel het. Wat netnou nog sag en warm was. Wat gelewe het. En nou is daar niks daarvan oor nie.

Die naweek was ‘n hoogtepunt, ons het mekaar lanklaas gesien, ons het dik stukke gekuier en die kinders het ure se pret saam. Nou dit!  Nou is daar niks daarvan oor nie. Ek sien al die res van die verwese naweek…

Die klein tefie, wat altyd saamspeel wanneer die kinders in die swembad is , en op Phalaborwa is dit heeldag, is vir die eerste keer ‘n ma.  En ‘n goeie een daarby.  Sy wil ook by die kinders wees wat in die water baljaar, maar haar moedersinstink dring haar terug na die kleintjies toe.  Sy maak ‘n plan.  Sy kan oor ‘n hekkie spring. As sy die kleintjies een-een aandra tot agter, waar die swembad is, dan kan sy saambaljaar en terselftertyd ‘n moeders-oog oor die kriewelende, bakbeenbrakkies  hou.

Die agtertuin is skemerig, die swembad het darem ‘n dowwe lig in, maar die eerste wat hulle van moederhond se briljante plan te wete kom, was toe Nita teen die grillerige, lewelose, ronddrywende dingetjie in die water met haar arm raak.  Nugter weet nie vir hoe lank al nie…

Ek en Tryna kyk vir mekaar.  Kyk vir ons platgeslane, paniekerige spruite.  Jou moedersinstink dring jou terug na jou kinders toe.  Jy maak ‘n plan.

“Bring ‘n handdoek!”

Nita prop vervaard die lewelose liggaampie en ‘n nat swemhanddoek in my hande. Dadelik verskuif die aandag.  Die gesiggies verlig. Daar is hoop in hulle oë. Daar is net grysheid in die hondjie se oë. En my moed sak in my skoene. Ons sal probeer. Maar ons weet nie presies wat en hoe nie.  Almal bondel ons toe. Isabella kom kruip onder haar ma se vlerk in. Die trane dam net al hoe meer op.  Die seuns gaan kyk of die ander hondjies veilig is. Moederhond staan hier langs ons met groot kommer-oë.  Sy spring teen die kant van die stoepstoel op en kyk stip na haar hondekind.

“Nog ‘n handdoek!”

Hulle frommel vyf deurnat handdoeke op my skoot in. Wag in die dam soutwater hier op die stoep.

Vryf driftig in klein sirkels met die handdoek oor die handjievol doodgeit om te probeer om die bloedsirkulasie weer aan die gang te kry. Iets soos diep massering. Klop-klop-klop met ligte vinnige houtjies teen die bietjie borskas om die vog uit die lugweë te kry.  Iets soos fisio. Iets soos om die slym los te maak, wanneer  jou kind ‘se tande in die borsie vassit’.  Klop-klop teen die ribbetjies.  Maar ek sit ook nie my mond aan daai snot-lelneusie met die blou uithangtongetjie nie!

Hulle bring ‘n droë warm handdoek.  Kinderstare is leeg.  Kinderstare wat nie verstaan nie, maak net seer.  Seerstaar. Staar net na die nat bondeltjie wat netnou nog in hulle nekke ingekriewel het. Wat netnou nog sag en warm was.  Wat netnou nog geskop het met die agterpootjie as hulle onder sy boepmagie kielie. Vryf-klop-vryf-klop.
“Kgggg…”

Een klein petite niesie.

Stilte. Niemand roer nie. Spaar asem. Stilte druis oorverdowend.

“ Kgg… ghaaap… kgg…”

Vryf-vryf. Klop-klop. Druk die lyfie teen my oor. Die hartjie druis. Die dingetjie ghaaap nog ‘n paar keer, nog ‘n kgggg…  Skreefogies.  Pienk tongetjie terug innie bekkie.  Hierdie keer ons ma’s se beurt om te tjank.  Vee die snot-lelletjie sommer met die handdoek af.  Die hondjie s’n, bedoel ek.

“Bring asseblief ons sjerrieglase wat doer in die kombuis langs die deegbak staan!  En die bottel!”

Ons gee die blêddie brak ‘n bekvol daarvan. Vir die bloedsomloop. Of was dit vir die wis en vir die onwis?  Wis niet!

Ma-hond gaan lê gewillig en hy soek-soek bietjie rigtingbeduiweld na die naaste speen , maar ons gee toe nie meer om of die deurmekaargeit van die swembadwater of die sjerrie was nie. Hy leef.  En hopelik sonder breinskade. Toe die skuimbekkie ophou suig, draai klein Sakkie hom in ‘n handdoek toe en hou hom verlig teen sy hart vas. Vee die melkstraaltjie wat uit die slapende bekkie druppel, sag af.

Na die tyd dan doen jou brein mos so ‘n s-t-a-d-i-g-e kyk-weer:  die ou ontslape dingetjie het so salig gelyk daar waar hy op my skoot gelê het, swewend op wolke na die honde-hemel…

En toe word hy met moederliefde hardhandig teruggeruk aarde toe, ter wille van ons kinders, met Honde-Sie-Pie-Aar!

Geskryf deur Jo’ van Tonder

Rapport


Responses

  1. Ag hoe lekker… ek is sommer meegsleur met die storie … dankie


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: