Posted by: schabbers | Mei 8, 2012

Oscar Pistorius

“Ek het die Olimpiese Spele in 2008 misgeloop met minder as ‘n kwart van ‘n sekonde.  Nou wil ek dit nie weer deur my vingers laat glip nie.”

Hy’s ons hardloop-sensasie, net 25 en sonder bene.

As Oscar Pistorius iemand anders was, sou hy maar net nog ‘n gestremde gewees het wat probeer om sy pad in die “normale” lewe te vind.  Maar hy’s ons eie Blade Runner, iemand wat die geskiedenis van atletiek herskryf, telkens wanneer hy hom met sy ledemate van steenkoolvesel op die atletiekbaan aanmeld.  Hy dwing internasionale sportbeheerliggame om opnuut na hulleself en hulle reëls te kyk.

Trouens, Oscar het gewen waar min gestremde atlete (indien enige) dit voorheen gewaag het:  om die Paralimpiese Spele te omskep in ‘n nuusgebeurtenis uit eie reg, nie sommer ‘n byeenkoms wat ‘n handjievol toeskouers laat agterbly nadat die “regte” Olimpiese Spele verby is nie.

Hy mik nie laag nie.  Die seun van ‘n Pretoriase wewenaar-pa se grootste droom is om ook vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.  En nie-amptelik hét hy dit reggekry toe hy vroeër vanjaar in Gauteng die 400m in 45.2 sekondes kafgeloop het – binne die vereiste tyd om te kwalifiseer.  Nou moet hy dit net by ‘n internasionale byeenkoms herhaal.

Een van sy bewonderaars is die Britse atletieklegende (Sir) Sebastiaan Coe, voorsitter van die hoofbestuur van die Londense Olimpiese Spele en lid van die prestigeryke Laureus Acadamy, wat jaarliks sportmense beloon vir uitmuntende prestasie.  Oscar het in Februarie die Laureus Gestremheidstoekenning ontvang.

Daarna het Coe gesê:  “Ek het eers Oscar se impak op die Olimpiese en Paralimpiese sport besef toe ons verlede jaar Internasionale Paralimpiese Dag in Londen gevier het en Oscar sy demonstrasie oor 60m gegee het.  Kinders van alle ouderdomme het teen die versperrings gedruk om hom te sien en tougestaan om sy handtekening te kry.  Wat Oscar gedoen het, is om ons te dwing om ons ou sienings oor gestremdheid te hersien.”

Oscar is verlede maand ingesluit op die nuustydskrif TIME se lys van 100 invloedrykste mense ter wêreld – die enigste Suid-Afrikaner op die lys.

Vir hom gaan dit daaroor om jouself te bewys.  “Dit gaan om mededinging, ‘n toets van ‘n mens se gees.  Uiteindelik gaan dit net soos by ongestremde sport oor die maande en maande se oefen en harde werk.”

“JOU GESTREMHEID MAAK JOU NIE GESTREMD NIE.  JY’S IN STAAT TOT WAT JY KAN DOEN DANKSY JOU VERMOëNS.”

Hy is die held van oud en jonk, gestremdes en “normale” mense.  Iemand by wie elke persoon ‘n lewensles kan leer.

Onlangs is dié aantreklike vrygesel aangewys as een van die mooiste sportmanne ter wêreld!

en hy is baie gesog as model en is die gesig van vele advertensie-veldtogte

Hy het inderdaad al diep (steenkoolvesel) spore getrap en op 25 al ‘n baie ver pad geloop van die gestremde seuntjie wat hy eens was!

As mens saans opkyk na die sterrehemel en jy sien die blinkste ster, weet dan dis Oscar se ma wat trots neerkyk op haar eens gestremde seun!

Dalk is hy Suid-Afrika se enigste hoop op ‘n medalje in die Olimpiese Spele?

Wat ook al gebeur – hy is ‘n jongman met visie met sy voete stewig op die aarde!

Verwerk uit Rapporttydskrif MY TYD Sondag 6 Mei 2012


Responses

  1. intererssante artikel


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: