Posted by: schabbers | Junie 19, 2012

Erfgoed

Ek het ‘n wonderlike tante gehad vir wie ek so lief was soos vir my eie lewe.  Sy het kanker gekry en die siekte het alles in haar opgevreet.  Dae en nagte om het ons by haar gewaak.  Laat een aand, toe ek en my ma buite op die gras gaan sit om ons gedagtes lug te gee, wou sy weet:  “Hoe is dit dat jy so lief vir haar is?”  “Omdat sy nooit kinders van haar eie gehad het nie,” het ek geantwoord.  Hoe kosbaar moet dit nie vir Ma gevoel het om haar eie, haar oudste seun, te deel met ‘n vrou wat niemand gehad het nie.

Toe haar asem vlak raak, lê sy daar, net ‘n brokkie van haar lyf van eenmaal.  ‘n Vrou vir wie almal beny het oor haar mooie huis, haar meubels, haar diamante.  Terwyl niks haar lyding sagter, makliker, rustiger en stiller kon koop nie.

Vyf dae voor haar dood fluister sy in my oor:  “Tel my op, dan gaan hardloop ons buite in die veld, tussen die blomme.”

Toe maak ek haar oë toe en fluister terug:  “Kom Pikkie, ek tel jou op in my arms.  Kyk, ons vlieg by die venster uit.  Sien jy die lipstiekrooi kannas, die wit madeliefies wat met hul goudgeel oë om die swembad dans?  Ouma Miemie se krismisrose in pienk, pers, groen, wit en lila voor die stoep op Pinewoods?  Sien jy Gielie se lappe wingerd vol hanepoot en shiraz?  Kyk, daar is Jonkershoek se berg, die kleur van blou lood vandag.  Kyk…. Stellenbosch se strate met die witgekalkte gewelhuise soos ridders tussen die akkerbome.

Maak toe jou oë Pikkie…..ek hou jou styf vas.”

Toe sy weg is, het ek van haar geërf.  Maar sy’t my vroeg reeds geleer dat dit wat ek kry en dit wat ek reeds het, net geleen is.

Dis als net aardse goed.

Nou stap ek verby haar sitstoel, vryf oor die okkerneuthout met my vingers, onthou hoe ons gesit en gesels het in die voorkamer voor die kaggelvuur.  Onthou ek hoe ons in die winter groenboontjiebredie voor die einste kaggel geëet het.

Hoe sy my soms stywer vasgehou het wanneer ek gaan groet het voor ek moes huiswaarts keer.

Onthou ek weer dat erfgoed net leengoed is.

En dat diegene wat dit weet, eendag wanneer hulle hul oë sluit, reeds vlerke het om die blou hemel in te vlieg – vry van die kloue wat ander so vas op die aarde kan hou.

GESKRYF DEUR:  Niël Stemmet

in TUIS TYDSKRIF – Julie 2012


Responses

  1. Dis spesiaal


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: