Posted by: schabbers | September 27, 2012

Knipsels as metgesel op die lewensreis

Met hierdie skrywe van RETHA FICK in die rubriek “Verbyvlug” kan ek myself nogal vereenselwig.  Dis asof ek myself hierin lees.

Koerantuitknipsels – ek sit letterlik met ‘n skêr in my hand en koerant lees.  En knip uit:  vir weer lees en vir later lees.  En orals word my knipsels gebêre – in laaie, in kartondose, in lêers, selfs al in ou tasse.  As ek die knipsels op ‘n dag ontdek, voel dit of ek ‘n skat ontdek het.  Ou vergeelde koerantblaaie……wat elkeen sy eie storie vertel.
Net ‘n brandgevaar……..snork my man!

Verlede jaar dié tyd spook ek so tussen die aanpassing by ‘n nuwe werk en ‘n nuwe woonplek ook met die neerpen van ons familiegeskiedenis.

Die Vrystaatse familieplaas was in November 100 jaar in besit van ons familie.  In die aanloop tot die familiefees prop my broer ‘n groot, bruin koevert met foto’s en ‘n afskrif van die oorspronklike transportakte in my hande en vra of ek ‘n gedenkboek sal saamstel om dié mylpaal te vier.

Tussen ou kiekies en handgeskrewe briewe probeer ek toe weke lank tot ounag toe om die verlede te ontrafel.

Soos die storie van my voorgeslagte en hul verhouding met die grond ontvou, is dit veral die koerantuitknipsels wat my fassineer.  Netjies uitgeknip, vergeel.  Ou Afrikaans.  ‘n Onvervangbare rekord van my voorsate se lewe, in swart op wit in die destydse plaaslike koerant.  Ook die nuus van my oupagrootjie se afsterwe in 1958 op 74-jarige ouderdom.

“Stigter van Sake en Groot Sendingsvriend Heen,” lui die opskrif.  ‘n Klinkklare getuienis van sy bestaan.

Ek dink aan die hande wat dié berigte sorgvuldig uitgeknip en veilig gebêre het. Só, dat dit nou, dekades later, deel kan wees van ‘n nageslag se kosbare erfenisskat.

Ek dink aan ander koerantuitknipsels in my lewe.

Toe ek ‘n paar jaar gelede uit Jeffreysbaai wegtrek, stuur ‘n vriendin met elke geleentheid Gauteng toe ‘n hopie uitknipsels van ons albei se gunsteling-rubriekskrywer in Die Burger Oos-Kaap.

Mooi woorde, gedeelde leesgenot.

‘n Koerantuitknipsel hou ‘n besonderse bekoring in. 

Soms verwoord die uitknipsels sluimerende drome.  Dit teken die prentjie van wat ons graag wil beleef of bereik.  Vreemde wêrelde wat nog net vae moontlikhede is.  ‘n Foto van ‘n kasteel in Frankryk.  Die storie van ‘n pelgrimstog in Spanje.  Koerantresensies voor in die nuutste digbundel.  ‘n Stukkie inspirasie wat jy wil vashou en bewaar om later weer uit te haal en te bedink. Dalk ‘n doodsberig van iemand spesiaal in jou lewe wat jy wil onthou.

‘n Ware metgesel op die lewensreis.

Nou is daar iets waaroor ek wonder:  hoe gaan die volgende geslag dié stukkies lekkerte bêre?

Want nou reeds is die koerant nie meer net op papier nie, maar op ‘n tablet of ‘n selfoon- of rekenaarskerm.

Waar gaan dié argief gehou word?

In die koue binnekant van ‘n rekenaar se hardeskyf?

 

Soos verskyn in OOS-RAND-BEELD

26 September 2012

 


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: