Posted by: schabbers | Mei 8, 2013

‘n Bucket list

Meiringspoort

Meiringspoort

Dis deesdae mode om ‘n lys te maak van alles wat jy graag wil doen of reeds gedoen het, ‘n sogenaamde bucket list. Blykbaar verwys die naam na dinge om te doen voordat jy die spreekwoordelike emmer skop. Ek het oral op die internet gaan soek, maar nêrens is daar ‘n Afrikaanse woord of beskrywing vir so ‘n lys nie. Die soektog het egter ander interessante inligting geopenbaar.

Mens kan blykbaar ‘n bucket list van so te sê enige iets maak: Goed wat jy nog wil eet. Dinge wat jy nog wil doen. Ervarings wat jy nog wil beleef. En dan maak jy ‘n regmerkie agter elke item nadat jy dit gedoen het.

Daar is selfs ‘n fliek genaamd Bucket List met Morgan Freedman en Jack Nicholson in die hoofrolle. Hierdie komedie vertel die storie van twee terminaal siekes wat vinnig nog ‘n paar avonture probeer inpas voordat hulle die tydelike met die ewige verwissel.

Die meeste mense se lyste is nogal indrukwekkend. Talle het blykbaar al op ysingwekkende hoogtes uit ‘n vliegtuig gespring, of kaalbas rekspronge in die winter gedoen.

Dan praat ek nie eers van diegene wat steeds droom om ‘n leeu te soen,  ‘n beer te omhels of hoop om eendag  ‘n krokodil te muilband nie.

Ek het ook gaandeweg uitgevind dat mens, soos jy ouer word, al hoe meer goed op jou eie lysie kan afmerk.  Die meeste van ons was al in ‘n inry-teater en elkeen het tenminste eenkeer ‘n blinde afspraak gehad. ‘n Hele paar van ons het al interessante plekke besoek, per trein gaan vakansie hou, onsself aan die slaap gehuil of in ‘n tent in die boendoes uitgekamp.

‘n  Dik streep word ook meer dikwels deur ‘n paar van jou aanvanklike aspirasies getrek.  Ek sal seker nooit karaoke sing, ‘n verkeersteken gaps, of ‘n motorfiets koop nie. Toe ek dit eenkeer baie teen my sin agter Pierre op ons swaer se Goldwing motorfiets gewaag het, het ek my man aanmekaar gesmeek om stadiger te ry.  Hy het naderhand vies teruggeskree: “As ek nog stadiger ry, ry ons agteruit!!”

Ek besef nou dat ek  nooit ‘n lid van diie  mile high club gaan word nie. (Moenie vra nie!)  Rekspronge op my ouderdom kan permanente letsels nalaat: fisies sowel as geestelik. Visvang is eintlik ook nie in my aard nie.

Iets wat definitief NIE op my lys is nie, is ontmoetings met die helde van ons huidige  samelewing. Ek stel werklik nie daarin belang om skouers te skuur met sporthelde of filmsterre nie. Ook nie met enige politieke leiers nie! Die meeste verdien glad nie al die akkolades waarmee hulle toegegooi word nie.

Ek hou ook verby wanneer dit kom by die droomlys van eetgoed wat elkeen van ons tenminste een keer in ons lewens moet eet: foie gras, paddaboutjies, Skotse haggis, rou oesters, haaivleis, slange, hoenderbiltong…

Dis my fiemiesrigheid wat uiteindelik van my ‘n vegetariër gemaak het. Die vrees vir alles wat saamgemaal word vir wors en maalvleis het my genoop om dit regdeur ons huwelik self te maak. Ek het gewoonlik amper al die gas brandstof in my man se klein sweisvlam  opgebruik teen die tyd wat ek die laaste paar veertjies op ‘n hoender afgeskroei het. (wenk: moet NOOIT op internet vir die Afrikaanse vertaling vir “blowtorch” soek nie!)

Ek het nog een spesiale lysie oor wat vir my baie kosbaar is. Dit bevat dinge wat ek graag weer eenkeer in my lewe sal wil oordoen. Heel bo aan hierdie  lysie is ‘n laataand rit in die maanlig deur Meiringspoort. Dis magies. Die maan se strale reflekteer teen die hoë rotsformasies en maak strepe op die klippe in die kabbelende waterstroompie. Mens voel instinktief dat daar spoke in die Poort dwaal; talle reisigers uit die vroeë dae voordat ‘n uitstekende pad daardeur gekronkel het.

Ek wil weer eendag tot heel bo op Swartbergpas ry en afkyk op die veelkleurige landbou lappiesgrond doer onder in Matjiesvlei. Dan wil ek in Prins Albert se rigting terug ry en die afdraai na die Gamtoosvallei, oftewel Die Hel neem.

Ek wil op Swartvleistrand gaan soek na klein groen see-kastaiingdoppies en teen Gericke’s Punt  uitklim. Of een Sondagoggend al met die treinspoor by Kaaimanspas loop tot by Victoriabaai.

Ons het vroeër jare dikwels tydens die Paas-skoolvakansie in die Kaap gaan kuier. Die kar is reeds die vorige dag gelaai en die padkos is ingepak net voor  ons gery het. Ons het gewoonlik in die vroeë oggendure van die huis af vertrek. Dit het net-net begin lig word teen die tyd wat ons naby  Kroonstad was. Ek sal altyd onthou hoe mooi die  plate en plate kosmosse aan weerskante van die pad gegroei het. Die fyne blomme wat golwend  in die oggendbries heen en weer wieg is van my mooiste herinneringe.

Ek wil net weer eenkeer iewers langs die pad in die diep Karoo stop, daai padkos uithaal, koffie uit die warmfles skink en rustig sit en eet terwyl  ons luister hoe ander motors van ver af aankom en  in volle vaart by ons verby swiesh.

Geskryf deur:  Cathy Kotzé

Kaaimanspas

Kaaimanspas

op die enjinkap

Hoenderboudjies, frikkadelle,
     blou eiers (sout en peper in ‘n pakkie)
witbrood met dik botter
koffie uit ‘n fles –
Hierdie jaar doen ons dit
      op die outydse manier.
Populierbome, plaasdraad,
      koeie se kake markeer stadig die pas.
Herkou aan hierdie dag se
      blou koepel waaraan
stapelwolke onderstebo hang.
deur Roof Bezuidenhout:

Responses

  1. Droom die drome, en doen soms een- dis hoekom ons leef!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: