Posted by: schabbers | Augustus 1, 2013

‘n Sonneblomstorie

Anderhalf jaar gelede kom ek in die kruietuin op ‘n vreemde saailing af.  Eintlik is die twee ronde blaartjies weerskante van ‘n ragfyn steeltjie nog net ‘n beduidenis van ‘n plantjie.  Ek kyk vir die fyne dingetjie en hy kyk vir my asof die warm oostewind, die buurkat en Manlief se breë stewelspore glad nie iets is waarmee ‘n saailing rekening hoef te hou nie.

“Wie is jy?” wil ek behoedsaam weet.  “Jy lyk nie soos die appelliefie of die wynruit of verlede jaar se viooltjies nie.”  Die kleintjie swyg, maar vou tog sy twee blaartjies vol vertroue verder oop.  Die stammetjie rek ook en kry mettertyd lyf.

“Jy gaan hom nog uit die grond kyk,” terg Manlief, wat saam deur die inventaris van die afgelope paar seisoene begin kuier.  “Dis nie ‘n pronkertjie nie, ook nie ‘n roosmalva of ‘n tamatie nie,” stel hy tong-in-die-kies sy nuwe tuinkennis ten toon.  “Kan dit een van die Weskussaadjies wees wat jy jare lank in flessies in die buitekamer gebêre en uiteindelik hier kom strooi het?”

Ons hou uiteindelik op met bespiegel.  Skielik spring die plantjie met mening weg, asof die nuutgevonde rus en vrede al is waarop hy nog sy hele kort lewetjie gewag het.

Tot een oggend toe ek oudergewoonte die broodplank teen sy voete afskud en die harige blare, wat toe al kniehoogte staan, as dié van ‘n Sonneblom herken.  ‘n Sonneblom wie se saadjie na ‘n bak-en-brou-sessie van die einste broodplank afkomstig moes gewees het.

Opgewonde bel ek Manlief werk toe om hom van die goeie geluk te vertel.

Laatmiddag vier ons die uiteindelike kennismaking met koffie en koekies op die voordeurtrappies.

Oor die volgende paar weke wonder ek gereeld wie dan nou eintlik floreer:  die Sonneblom wat met sy flambojante kraag die laventelbye begin afrokkel of ons wat elke dag met verwondering ‘n pelgrimstog in die kleine oor die lappie heilige grond reg langs ons voordeur aflê.

Toe die Sonneblom sy ken laat sak, los ek hom aan sy stingel tot ek hom uiteindelik met die hand kan afdraai.  Hy word met die nodige ontsag in ‘n sonkolletjie op ‘n spesiale Sederbergrots gebêre.  ‘n Paar maande later vryf ek die swart pitte los en strooi hulle deur die tuin.

Kort daarna klop my buurvrou aan die voordeur met ‘n koevert vol Sonneblomsaad.  Sy het dit na haar ma se dood tussen ‘n klomp ou boeke gekry en gebêre.

Die tyd is nou reg.

Sal ek dit asseblief in ons tuin saai?

‘n Week of wat later kom ek op ‘n sakkie handgeoeste Sonneblomsaad af wat ek nog by een van my leerders se ouers gekry het. In my gedagtes stap die swaarkry-ma en haar twee skraal seunskinders saam om die miniatuur Sonneblomme te saai.

En die eerste keer begryp ek dat ‘n Sonneblom se heldergeel liedjie lank ná dood steeds deur die groot heelal weerklink.

‘n Sonneblom-simfonie.

 

GESKRYF DEUR:  WENDY MAARTENS

photo-11

 

 

 


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: