Posted by: schabbers | Oktober 25, 2012

Van Lettie, lappieskomberse en ou karre

More sê.
Gister was toe ’n lang dag. Ek en Moses is so halfnege hier op Jacobsbaai weg, Vanrhynsdorp toe, waar Johannes, Lettie en Koos die vorige aand met oorle Pa se ou Mercedes langs die pad gaan staan het. (“Hy maak net so krrr,” het Johannes verduidelik.) Japie Ockthuys, ’n plaaslike werktuigkundige, het darem intussen die Mercedes tot by sy werkwinkel gesleep. Net na halfeen ry ek en Moses toe Vanrhynsdorp in. Johannes, Lettie en Koos wag onder ’n boom skuins oorkant die Namakwa Lodge vir ons. Innes Spies, eienaar van die lodge, het hulle daar laat oornag. Dit is 30 grade plus in die skadu op Vanrhynsdorp en Koos het daardie eienaardige wintershoedjie met die oormowwe van hom op. Lettie dra ’n haarstuk, gekoop by die China Shop op Ventersdorp. Sy dra altyd ’n haarstuk (en kerkklere) wanneer hulle die langpad vat. Japie Ockthuys se werkswinkel is op ’n plot buite die dorp, in die Maskamberg se koers. “Is ons op die regte pad?” vra ek later vir Johannes terwyl ons op ’n grondpad al verder uit die dorp ry. “Jy sal hom nou-nou sien,” sê Johannes. “Daar’s baie karre.” Toe vermoed ek klaar ek weet hoe dit op Japie se plot gaan lyk. Ook nie ver nie, toe blink daar ’n menigte gedaan karre in die oopte: ’n Opel Kadet, ’n Hilux uit die jare sewentig, ’n Colt Gallant, twee Nissan 1200’s, ’n Cressida – en ’n sjampanjekleurige Mercedes Benz wat eens op ’n tyd op ’n Sondagoggend met Pa agter die stuur spoggerig kerk toe gery het, met Fanie Smit se Alle Volke Loof die Here oor die draadloos. Party van die karre staan op houtblokke sonder wiele. Ander se bande is pap. In die middel van als ’n klein platdakhuis met ’n peperboom in grasperklose voortuin. Onder ’n afdak is ’n werkbank vol gereedskap. Ons hou naby die Benz stil en klim uit. Die son brand, die wind waai en die kraan langs die huis lek. By badkamervenster flap ’n gordyn uit met prentjies van dolfyne daarop. ’n Man kom om die hoek van die huis gestap. Klosse hare krul onder sy swart petjie uit. Op sy deurgeskilfde T-hemp is net twee woorde leesbaar: “Sailing… Cruise.” Sy voete is so diep in sy plakkies ingeskuif dat sy tone die grond raak. Japie Ockthuys. Toe kom daar ook ’n hond aangedraf, so ’n lae, donker brak wat lyk of dit oliestrepe oor die rug het. Optel. “Die lyk nie goed nie, Meneer,” sê Japie. “Die injin het vasgeslaat. Kan die timing belt wees wat gegaan het.” “Hoeveel gaan dit kos?” vra ek. “Dit moeilik om te sê, Meneer,” sê Japie, en slaan oor in die derde persoon, soos ’n werktuigkundige dikwels maak wanneer geld gepraat word. “’n Mens kyk na so tienduisend. Dalk kan ’n mens ook kyk na ’n re-conditioned injin vir so agtduisend.” ’n Mens… Ek stap nader aan die Benz. “’n Mens is nou gatvol vir hierie kar, Japie,” sê ek. “Hoeveel gee jy my vir hom?” Agter my praat Johannes skielik: “Ouboet, kom ons praat eers.” Ek is nie regtig lus om daaroor te praat nie. Ek het twee maande gelede R6000 aan die kar spandeer – ’n kar wat skaars R10 000 werd is. Boonop het ek nie R10 000 om nou aan hom te spandeer nie. Ek en Johannes en Lettie gaan staan eenkant. “Ons moet hom laat gaan, Johannes,” sê ek. “Hierdie kar gaan my bankrot maak.” “Jy kan nie, Ouboet,” sê Johannes. “Die Oubaas kyk vir ons.” Nou praat Lettie ook: “Ek’t vir Johannes gesê dis omdat hy en Koos nog nie daai klip op die Oubaas se graf gaan sit het nie, dís hoekom hierdie kar loop staan het. Dis die Oubaas wat met ons praat.” Ek weet skielik nie wat om te sê nie. Pa en Johannes het dikwels rotstuinklippe in die veld buite Ventersdorp gaan optel. Op ’n dag het Pa glo ’n spesieke klip – dis glo ’n tamaaie ding – vir Johannes uitgewys en vir hom gesê hy en Koos moet ná sy dood die klip met ’n kruiwa gaan haal en op sy graf sit. Ek stap terug na Japie toe. “Dink jy ons sal die kar tot op Jacobsbaai kan sleep?” vra ek. “Dan het Meneer ’n stang nodig,” antwoord Japie. Hy gaan grawe ’n geroeste stuk pyp in ’n hoop skrootyster uit en begin ’n trekstang prakseer. Optel draf die hele tyd agter hom aan. “Die hond het maar net hier aangekom,” verduidelik Japie. “Toe noem ek hom maar optel.” Die vorige keer toe Johannes-hulle met die Mercedes Ventersdorp toe gery het, het hy ’n plakker agterop die kattebak geplak: The Lord is my protection. Maar die plakker het mettertyd in die seelug verweer. Vir hierdie rampspoede rit het Johannes weer ’n plakker gaan koop en dit op die dash board geplak: Jesus Christ is Lord. Net na twee-uur toe is die Benz agter-aan die bakkie gehaak en ry ons by Japie Ockthuys se werf het. Ek waai vir Japie deur die bakkie se oop venster en hy waai terug en druk sy duim in die lug. Johannes en Lettie sit agter-in die Mercedes. Koos en Moses sit langs my in die bakkie en eet grondboontjies. Teen 80 km/pu sukkel ons aan, verby Vredendal, deur ’n misbank wat oor die Weskus kom lê het. By Strandfontein is ek lus en hou stil, haak die Mercedes af, al sê Johannes-hulle ook wat, en stoot dit oor daardie hoë kranse… Ek is moeg om my pa soos ’n slegte gewete agter my aan te sleep. Ek wil ontslae raak daarvan. Die geeste van die voorvaders moet nou gaan rus. Op Lambersbaai hou ons stil om koeldrank te gaan koop. Johannes-hulle is onrusbarend vrolik. “Ons ry darem lekker,” sê hy. Naby Dwarskersbos bel hy my. Kan ons nie net by die kafee op Velddrif stilhou nie, want hy wil Lotto speel? “Ek dink ons gaan hom hierdie week vat, Ouboet,” sê hy en lag. Net ná halfagt gisteraand hou ons klein optog van aftjoppers by die huis hier op Jacobsbaai stil. Die honne blaf. Die kraan langs die huis lek nie. Die Mercedes is tuis, vermoeid en belas, stukkend en gedaan – maar tuis. Nou kan Lettie-hulle weer begin komberse maak. Ons praat gou weer. Dana. NS! Ek sal netnou kyk of ons nie dalk die Lotto gewen het nie.
Geskryf deur Dana Snyman op die FB blad van LETTIE SE LAPPIESKOMBERSE

Lewer kommentaar

Kategorieë